GRAAD1- en gr.2- leerders kan vanjaar ’n langer skool-dag verwag, het die departement van basiese onderwys aangekondig.
“Die skooldag sal ’n halfuur langer wees,” het Hope Mokgatlhe, woordvoerder van die departement, gesê.
“Ons wil Engels as eerste bykomende taal op gr.1-vlak inbring.”
Mokgatlhe het gesê leerders het voorheen eers van gr.3 af Engels begin leer. Dit is egter die taal waarin die skoolkurrikulum in Suid-Afrika onderrig en getoets word, en is dus van deurslaggewende belang.
In sommige skole in die Wes-Kaap sal Afrikaans as die eerste bykomende taal aangebied word.
Mokgatlhe het bygevoeg die skool-dag in die grondslagfase (gr.1 tot gr.3) sal nie langer as sesuur wees nie. Voorheen is leerders weekliks altesaam nege uur en tien minute in geletterdheid onderrig. Van volgende jaar af sal tien uur se klastyd tussen die twee tale verdeel word.
Die tyd wat weekliks aan wiskunde bestee word, sal van sewe en ’n half- uur tot sewe uur verminder word, terwyl ’n halfuur meer per week aan lewensvaardighede gewy sal word.
Mokgatlhe het gesê individuele skole sal besluit hoe hulle hul roosters gaan aanpas om dié veranderings in die leerplan in te werk.
Volgens Jaco Deacon, woordvoer-der van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, gaan langer skoolure nie noodwendig ’n verskil maak nie.
“Dit is soos om ’n pleister op die verkeerde plek te plak. Die gehalte van onderrig en van onderwysers moet aandag kry.”