WATERPYPE wat op een plek reggemaak word, net om ’n entjie verder weer te bars, sal binnekort iets van die verlede wees.
Die vervanging van swak infrastruktuur in Willow Glen, wat talle inwoners al raadop het, het op 13 Februarie begin en behoort na verwagting binne die volgende drie maande voltooi te wees.
Gustav Rautenbach, wyksraadslid in dié gebied, het gesê die waterpype in Willow Glen gaan teen ’n koste van R2miljoen vervang word. “Minstens sewe pype het die afgelope drie maande gebars. Sowat vier maande gelede moes ’n stuk van die pad opgebreek word om die gebarste pyp reg te maak,” het Rautenbach gesê.
Tydens die opgradering sal inwoners met tye sonder water wees, maar dit sal beperk wees tot tussen 09:00 en 12:00. Monique Basson