TWEE Baaise aspirant-ontwerpers is onder die top-10 finaliste wat vir die Durban July Mode-uitdaging gekies is.
Marisa Kriek (23) en Celesté Swart (19), tweedejaar-modeontwerp-studente van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU), se voorstel-ontwerpe is vanuit ’n rekord-aantal inskrywings gekies.
Die vriendinne moet wen-uitrustings met die tema “A Material World” vir die Durban July-perderesies ontwerp wat omgewingsvriendelik en volhoubaar is.
Kriek se voorstel is deur evolusie geïnspireer en sy maak onder meer gebruik van rowwe Angora-bokhaar en natuurlike kleurstowwe. Swart is deur hergeboorte geïnspireer en sy gaan gelamineerde vloer-afvalstukke, linne en Henna gebruik.
Die wenner word op rendag, 7 Julie, aangekondig wanneer die ontwerpers se uitrustings deur modelle by die Durban July ten toon gestel sal word.