Wat ’n skok het op my gewag met my besoek aan twee begraafplase in PE op Moedersdag, Sondag 13 Mei, 2012.
Ek het eers die Noordeinde begraafplaas besoek waar my ouers begrawe is. Om by die graf uit te kom moes jy met die motor verby ’n berg grond, oortrek met bosse en onkruid skuur. Verder was dit onmoontlik om in die paadjie na die graf te loop, want gras en onkruid het kniehoogte gestaan wat my genoop het om op ander grafte langs te loop.
By my ouers se graf het ek in afgryse gesien dat die een kant van die graf ingesak is en ook met lang gras en onkruid oortrek is.
Alhoewel ’n 25-jaar kontrak onderteken is vir instandhouding van die graf, gebeur dit vir die afgelope vier jaar nie op ’n gereelde basis nie. Ek probeer om, wanneer moontlik, die onkruid te verwyder en die lang gras te sny, maar vir my, wat nie meer in die fleur van my lewe is nie, raak dit ook nou moeilik om dié taak te doen.
Dieselfde gesig het Kersfees 2011 ook op my gewag. Daar word ook al vir maande lank aan die een pad gewerk wat slaggate en diep slote tot gevolg het.
Ek het gedink die Noordeinde begraafplaas suig aan die agterspeen, maar nog ’n skok het op my gewag met my besoek net hierna (op Sondag 13 Mei) aan die Forest Hill begraafplaas. Hier ook was daar lang gras en onkruid tussen die grafte.
Ek het al probeer om met die senior metro beampte in beheer van die begraafplase te praat, maar dis ’n onmoontlike taak. Ek wil vasstel wat gebeur in die geval waar ’n kontrak van 25 jaar bestaan en oor ’n paar jaar verval. Sal die Metro dit daarna outomaties in stand hou aangesien dit nooit op ’n gereelde basis gedoen was nie?
Orals waar ek mense teëgekom het in die begraafplase, het hulle hul misnoeë te kenne gegee oor die haglike toestande daarvan.