News / Charlotte mik vir die (Hollywood) sterre

BENONI het sy Charlize Theron en Port Elizabeth het sy Charlotte Huisamen.

En hoewel Charlotte nog nie ’n goue standbeeldjie iewers in ’n glaskas verberg nie, is haar kanse baie groot dat dié eer haar ook eendag te beurt sal val.

Charlotte, ’n gr.11-leerder van die Hoërskool Pearson, het onlangs ’n gedeeltelike beurs van die New York Film Academy ontvang om musikale teater ná skool daar te gaan studeer. Die akademie is die filmskool van keuse van menigde Hollywood-filmmakers en -akteurs.

Maar omdat dit net ’n gedeeltelike beurs is, moet Charlotte nou self fondse insamel om dié droom van haar te verwesenlik. Hiervoor hou hulle op 3 Augustus ’n fondsinsamelingsprojek by dié skool waar die bekende en plaaslike ster, Ian von Memerty in die produksie, Captain Entertainment sal optree.

’n Gedeelte van die fonds sal gebruik word om Charlotte se droom ’n realiteit te probeer maak.

Sy is ook onlangs in die Suid-Afrikaanse span opgeneem om haar land by ’n wêreldkompetisie van uitvoerende kunste in Los Angeles te gaan verteenwoordig. Hulle het reeds op 9 Julie vertrek en keer weer op 26 Julie terug.

Sy het in 2009 saam met haar gesin van Kaapstad na Port Elizabeth verhuis. Sedert sy by dié skool in Somerstrand ingeskryf het, het sy ook die skool se dramaklub begin en is sy tans die president van dié klub.

In 2009 het Danie Matthee vir Charlotte genader om een van die vroulike hoofrolle in sy drama, Breek ’n Been, wat in die PE Opera-huis opgevoer is, te vertolk. Hoewel dit haar eerste groot rol was, het Charlotte nie teruggestaan vir die kollig nie.

“Ek het dit geweldig geniet om ’n hoofrol in dié stuk te speel, waar ek ook vir die eerste maal ’n geleentheid gekry het om op die verhoog te sing. Sedertdien het ek nog nooit teruggekyk nie en geniet ek elke oomblik daarvan om by die uitvoerende kunste betrokke te wees,” vertel sy.

Vanjaar het Charlotte reeds hope welslae behaal. Sy het haar OP- en SA-kleure in die uitvoerende kunste vir toneelspel, sang (solo en duet) en dans ontvang en sy is ook vanjaar deur Kingfisher Talent Search 3C gekies om Suid-Afrika in New York, Florida en Orlando in Januarie volgende jaar by ’n musikale teater-konfensie te verteenwoordig.

Maar haar lang lys van prestasies hou beslis nie daar op nie. Benewens ’n hoofrol in die produksie, Showtime 2011, spog sy ook met die Mej. Pearsonality-titel van haar skool.

Verlede jaar het sy onder meer deurgedring na die tweede ronde van die Kaapstad-toneelfees saam met 19 ander hoërskoolleerders in Suid-Afrika. Tydens die ATKV Tiener-toneelkompetisie het sy as ’n finalis weggestap. Al haar toneelstukke waarin sy opgetree het, is self deur haar geskryf.

Haar ma, Adri, vertel dat vandat Charlotte ’n klein meisie was, was sy oortuig dat sy in die verkeerde land gebore is. “Sy moes in New York ge-wees het...die verhoog en filmbedryf is haar toekoms, glo sy!” het Adri vertel.

Dié trotse ma glo dat Charlotte se toegewydheid en fokus genoeg is om enige persoon sprakeloos te laat.

“Nou het haar jarelange droom binne haar bereik gekom en ek weet met my hele hart dat die Here ’n groot plan met haar lewe in die mu-siek- en filmbedryf het.

“Vir ons as haar ouers is dit swaar om te dink sy gaan so ver van ons af wees, maar die Here se plan vir my kind se lewe is belangriker as my behoefte om haar naby aan my te hê!

“Sy was gebore vir die verhoog en dis waar haar liggie brand. Ons sal alles in ons vermoë doen om dit vir haar moontlik te maak.”

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Saturday 2012-05-19
Please select your area for forecast
CPT 11° - 15° icon
PTA 7° - 25° icon
JHB 5° - 22° icon
BLOEM 0° - 17° icon
DBN 14° - 21° icon
PE 7° - 14° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs