MOTORISTE wat gereeld in en verby Fairview rondry sou agterkom dat dié gebied deesdae ’n bietjie kaler lyk as voorheen.
Dít is omdat ’n groot aantal bome wat in dié eens beboste area gestaan het, nou afgekap word.
Volgens Retief Odendaal, DA-raadslid vir wyk 6, is die Port Elizabeth Land Restitution and Housing Association (Pelrha) besig om hierdie area te ontbos.
“Ons het geweldige probleme met die beboste gebiede as gevolg van mense wat maklik ongesiens onwettiglik daar rommel en gemors stort. Dit is nou natuurlik baie moeilik om ongesiens in die ontboste gebiede rommel te stort,” het Odendaal gesê.
Hy het bygevoeg dat daar reeds groot vordering gemaak is met onwettige storting nadat daar met die ontbossing begin is.
“Onwettige storting bly desondanks steeds ’n groot probleem regoor die metro en ek doen ’n beroep op inwoners om nie te skroom om my te bel indien hulle enige oortreders op heterdaad betrap nie,” het hy gevra.
Intussen het hy te kenne gegee dat hy nie gelukkig is dat al die bome afgesaag word nie, maar hy verstaan ook dat dit alles uitheemse bome is.
Volgens Clive Felix, direkteur van Pelrha, word die bome nie net afgesaag om onwettige rommelstorters af te skrik nie, maar ook om plek te maak vir nog huise wat hier gebou gaan word.
Odendaal kan by 0413671670 gebel word.